Twee (of selfs drie!) skoffelploeë in een

Agripieces / Agromasz : 2x4 Verticlae Tilage

Agripieces het in Mei vanjaar ‘n nuwe Agro-Masz-koppelbalk op Nampo bekend gestel wat die lewe vir boere net makliker kan maak.

Dié implement stel jou in staat om twee viermeterwye skoffelploeë vir vertikale bewerking aan mekaar te koppel tot een agtemeterwye skoffelploeg. Moenie dat dié grootte jou afskrik as dit by die vervoer daarvan kom nie: ’n Eenvoudige hidroliese driepuntstelsel trek die twee skoffelploeë op, waarna dit bo-oor die koppelbalk invou. Die gewig van die opgevoude skoffelploeë word nou nader aan die trekker verplaas, en die volle wydte ná opvou verklein na 2,5 m – heel veilig vir Suid-Afrikaanse paaie.

Hoewel die stelsel vir ’n groot trekker ontwerp is, kan die skoffelploeë ook afsonderlik op kleiner trekkers gebruik word. Daar is ook die opsie om tot drie skoffelploeë op hierdie wyse in te span.

Een groot verskil van ander skoffelploeë wat die oplettende boer baie vinnig sal raaksien, is dat die skottels nie so rond is soos die skottels waaraan mens gewoond is nie. Elke skottel is ook op sy eie gemonteer is om skokke afsonderlik te kan absorbeer. Dit verseker ’n beter gelykmakende effek, ’n hoër penetrasievermoë en uitstekende vogbeheer. ’n Welkome stukkie goeie nuus is dat dié platter skottelontwerp beter brandstofverbruik verseker omdat die kW-verbruik baie laer is: Die skottels hoef nie so aggressief te werk om materiaal te verplaas nie.

Dieptebeheer is ook makliker en pyprollers agteraan die skoffelploeg verdig die grond weer om ’n uitstekend voorbereide saadbed te skep.

Mens verwag dat so ’n stelsel jou ’n plaas se prys sal kos. Hier is nog ’n welkome verrassing: Die stelsel behoort jou nie meer uit die sak te jaag as wanneer jy die komponente afsonderlik sou koop nie. Met die Agro-Masz-koppelbalk spaar jy dus geld én tyd.

Sien volle video met Andre Groenewald:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Categories

Latest Articles

Latest Videos